Rassie Malherbe
15 MEI 2003
A. UITGANGSPUNTE
1. Daar is 'n wanopvatting dat die Grondwet mense se regte nie effektief beskerm nie. In der waarheid bevat die Grondwet afdwingbare regsreëls.
2. Die Grondwet is trouens die hoogste reg van die Republiek. Die implikasies is: (i) Almal, ook die Regering, is ondergeskik aan die Grondwet. (ii) Elke wet, beleid en optrede wat strydig is met die Grondwet is ongeldig. (iii) Die howe het die gesag om sulke wette en optrede ongeldig te verklaar.
3. Daar is egter 'n nuwe demokratiese kultuur nodig: elke burger moet self verantwoordelikheid neem om toe te sien dat die Grondwet nagekom word.
4. Daar is verskillende wettige, ordelike en demokratiese aksies moontlik om iets wat die Regering doen, teen te staan - by die stembus, deur middel van die vrye pers, deur mobilisering en vertoë deur drukgroepe en vrywillige organisasies, maar ook uiteindelik deur 'n hofaansoek.
5. Godsdiensvryheid word in die Grondwet gewaarborg as 'n basiese reg van elke mens (a 15(1)).
6. Godsdiensvryheid sluit die uitlewing van godsdiens op enige plek in. A 15(2) bevestig dit uitdruklik deur te bepaal dat godsdiens in staats- of staatsondersteunde instellings, soos openbare skole, beoefen mag word.
7. Enige aantasting van hierdie reg is ongeldig, tensy dit voldoen aan a 36 van die Grondwet, wat die vereistes stel vir wettige beperkings op regte.
8. Die beperking moet dus redelik en regverdigbaar wees in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Die beperking wat deur die Regering se godsdiensbeleid op hierdie reg geplaas word, kan nie ingevolge a 36 geregverdig word nie.
B. ARTIKEL 15(2)
1. Artikel 15(2) bepaal dat godsdiensbeoefening mag plaasvind in staats- en staatsondersteunde instellings, mits (i) dit geskied volgens reëls neergelê deur die tersake gesag (volgens die SA Skolewet is dit die beheerliggaam), (ii) dit op 'n billike grondslag geskied, en (iii) die bywoning daarvan vry en vrywillig is.
2. A 15(2) bevestig daardie element van godsdiensvryheid in a 15(1) wat op die uitlewing daarvan betrekking het.
3. Die doel van a 15(2) is om die status quo in verband met die uitlewing van godsdiens in skole en elders te beskerm, maar om onbillike diskriminasie teenoor minderhede te voorkom - daarom moet die godsdiensbeoefening billik, vry en vrywillig wees.
4. Saamgelees met a 15(1), mag daar voortgegaan word met godsdiensonderrig in skole en mag skole 'n bepaalde godsdienstige etos hê, solank daar nie teen minderhede in die skool gediskrimineer word nie.
5. Die Konstitusionele Hof het in twee uitsprake bevestig dat daar in Suid-Afrika nie soos in die VSA 'n "strict wall of separation" tussen staat en kerk is wat in daardie land daartoe gelei het dat godsdiens heeltemal uit skole verban is nie. A 15(2) bevestig dit.
6. Die staat het 'n plig om die regte in die Grondwet te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik (a 7(2)). Die staat moet dus eerder ruimte vir godsdiensbeoefening skep en nie die geleentheid daartoe verder beperk nie.
7. A 15(2) sê eintlik dat al mag dit in bepaalde gevalle moeilik wees, moet sinvolle, praktiese maniere gevind word om a 15(2) toe te pas. A 15(2) laat nie toe dat alle godsdiens dan maar by die venster uitgegooi word omdat dit moeilik is om aan die voorwaardes van a 15(2) te voldoen nie.
8. A 15(2) daag ons uit om in ons multi-godsdienstige samelewing verdraagsaam te wees en om ruimte vir mekaar te maak.
9. A 15(2) is duidelik genoeg: die toepassing daarvan behoort daarom aan skole oorgelaat te word en die Regering behoort net toe te sien dat hulle nie in die proses diskrimineer nie.
C. REGERINGSBELEID
1. Hier is hoofsaaklik twee sake ter sprake: "religion education" en "religious observances".
2. "Religion education" is 'n saak waaroor geestelikes en opvoedkundiges standpunt behoort in te neem, maar uit 'n regsoogpunt kan enkele opmerkings gemaak word.
3. Die inhoud en aanbieding van "religion education" mag nie strydig wees met die reg op godsdiensvryheid nie.
4. Dit mag godsdiens, of spesifieke mense se godsdiensgevoelens, dus nie aanstoot gee, verkleineer, bevoor- of benadeel nie, of neutraliteit teenoor of vermenging van godsdiens aanmoedig nie.
5. Dit moet vrywillig wees en leerders mag vrygestel word op grond van gewetensbesware.
6. "Religion education" mag nie vanuit 'n spesifieke staatsbepaalde perspektief aangebied word nie.
7. Daar mag nie gekeer word dat die individu "religion education" vanuit sy/haar eie perspektief bestudeer of beoordeel nie, tensy dit haat of vooroordeel bevorder.
8. Wat "religious observances" betref, probeer die beleid klaarblyklik om dit uit skole te verban. Dit begin daarby om eerstens te verklaar dat skole 'n verlengstuk van die staat is (wat ignoreer dat skole eweseer 'n verlengstuk van die samelewing is). Tweedens word dan verklaar dat godsdiens 'n saak vir ouers en kerke is en nie vir skole nie. Daarvandaan is dit maklik om aan te voer dat daar derdens nie in skole ruimte vir godsdiensbeoefening is nie.
9. Die beleid skep die indruk dat godsdiensbeoefening in die weg staan van die waardes wat die beleid wil bevorder, naamlik billikheid, verdraagsaamheid, verskeidenheid, openheid, aanspreeklikheid, en wedersydse respek.
10. 'n Mens kan vra wat is so inherent boos aan godsdiensbeoefening dat dit hierdie waardes ondermyn, of dat dit nie saam met "religion education" kan bestaan nie? Of is die vraag eerder andersom: wat word werklik beoog met "religion education" dat leerders nie daarnaas hulle godsdiens mag beoefen nie?
11. Die eerste beleidsdokument, Manifesto on Values, Education and Democracy, het verklaar dat godsdiensbeoefening net buite skoolure toegelaat mag word en dat dit net handel oor die beskikbaarstelling van fasiliteite.
Daarmee word godsdiens in 'n kompartement geplaas asof dit nie 'n invloed op die hele lewe het nie.
12. Die uitskuif van godsdiens tot buite skoolure berus op 'n totale wanvertolking van a 15(2) en is dus ongrondwetlik. Dit is volledig behandel in my artikel "The constitutionality of government policy relating to the conduct of religious observances in public schools" 2002 Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Reg 391-418, waarin onder andere aangetoon is dat a 15(2), insoverre dit bepaal dat godsdiens-beoefening billik moet plaasvind, en dat die bywoning vry en vrywillig moet wees, op die beoefening self betrekking het en nie net op die beskikbaarstelling van fasiliteite nie.
13. In die volgende beleidsdokument, Policy: Religion in Education, is die uitdruklike verwysing na "buite skoolure" weggelaat omdat dit so blatant verkeerd is. Maar die res van die dokument is steeds onomwonde daarop gerig om godsdiensbeoefening uit skole te verban. Let op die volgende stellings in hierdie verband:
(a) "outside of the formal school curriculum" (p 11);
(b) "outside the formal activities of the school" (p 25);
(c) "not part of formal teaching or official activities of the school" (p 25);
(d) not structurally part of the official business of the public school" (p 25).
14. As hierdie stellings saamgelees word met die volgende stellings wat steeds net werk met die beskikbaarstelling van skoolfasiliteite, is dit duidelik dat daar net op een manier gevolg gegee kan word aan die beleid se oogmerke met godsdiensbeoefening en dit is dat die beoefening buite skoolure moet plaasvind:
(a) "schools can make space available" (p 10);
(b) "schools may make facilities available" (p 25);
(c) "facilities may be made available on an equitable basis to all who apply" (p 25).
15. Wat saalbyeenkomste betref, is die beleid uitgesproke daarteen dat dit 'n geleentheid vir godsdiensbeoefening mag wees. Die antwoord is egter dat as aan a 15(2) se voorwaardes voldoen word, daar geen beswaar teen godsdiensbeoefening tydens saal kan wees nie.
16. Die hele benadering wat uit die beleid straal, beteken dus net een ding: godsdiensbeoefening mag net buite skoolure plaasvind.
17. Dit is direk strydig met a 15(2) en ongrondwetlik
18. Die jongste, vertroulike, dokument stel nie hierdie saak reg nie.
19. Die wysigings wyk geensins af van die beginsels, uitgangspunte en beleid wat in die vorige weergawe daarvan gestel is nie. In sommige opsigte het die wysigings selfs die uitwerking dat die beleid nou sterker geformuleer is.
Die dokument akkommodeer dus in geen wesenlike opsig die skerp reaksie wat sover teen die godsdiensbeleid ingebring is nie.
20. Byv: Die invoeging in paragraaf 2 verskaf bloot verdere verduidelikliking van die begrip "religion education".
21. Die invoeging van "sectarian/particular" in paragraaf 28 stel dit eintlik nou duideliker dat 'n bepaalde godsdiens nie beoefen mag word nie.
[Die skrapping van "religious instruction, indoctrination, propaganda, catechism, conversion, or confession" en die invoeging in die plek daarvan van "religious discrimination and coercion" is onnodig, want diskriminasie en dwang word in elk geval deur a 15(2) verbied.]
22. Die invoeging van paragraaf 30 verduidelik eweneens maar net verder wat met "religion education" beoog word.
23. Die weglating uit die betrokke paragrawe op pp 16 en 17 van die direkte redes waarom "religion education" nie deur kerklikes aangebied behoort te word nie, beteken niks, want die nuwe paragraaf 49 verskaf nog beter motivering waarom opvoeders beter as kerklikes toegerus is om "religion education" aan te bied. (Sien ook paragraaf 104 van die samevatting wat dit ewe duidelik stel.)
24. Paragraaf 76 bevat 'n verbetering deur te verklaar dat "religious organisations" ten volle betrokke sal wees by die goedkeuring van studiemateriaal vir "religion education".
25. Wat godsdiensbeoefening betref (paragrawe 87-93) bly alles net soos dit is en is daar net een afleiding moontlik: godsdiensbeoefening is net buite skoolure toelaatbaar.
26. Paragraaf 88 smeer net sout in die wonde deur te verklaar dat saalbyeenkomste wel 'n geleentheid vir "religious expression" mag wees, maar dan moet dit die multi-godsdienstige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing weerspieël! (Sien paragraaf 117 van die samevatting, wat hierdie verandering bevat, maar nie aandui nie.)
27. Dat die nuwe paragraaf 88 nie ruimte skep vir partikuliere godsdiensbeoefening nie, word bevestig deur paragraaf 89 (wat onveranderd gebly het), waarin onder meer verklaar word: "Like the rest of the school's learning programmes, the assembly should be an occasion for affirming and celebrating unity in diversity. Accordingly, if religious materials are used in assembly, they should be presented in the framework outlined for Religion Education as an educational exercise rather than as a religious ceremony."
28. Paragraaf 120 ("Conclusion") bied 'n mate van beweegruimte, maar 'n mens sal die paragraaf nie in isolasie van die res van die dokument kan beskou of toepas nie.
29. Alles in ag genome gee die gewysigde dokument geen duim toe nie en die beleid is nog net so onaanvaarbaar en ongrondwetlik.
D. SLOT
1. Die Regering se godsdiensbeleid is teen-produktief, omdat dit verdraagsaamheid predik, maar die teenoorgestelde doen.
2. A 15(2) stel ons juis voor die uitdaging om mekaar te erken en ruimte te gun om ons godsdiens uit te leef.
3. Dalk het die Regering se godsdiensbeleid een goeie resultaat en dit is om Christene 'n slag te laat saamstaan om helder, duidelik en beslis hulle stem te laat hoor.
4. Onthou dus dat die Grondwet 'n afdwingbare regsnorm daarstel.
5. Indien die staat nie die Grondwet nakom nie, het ons die volste demokratiese, ordelike en wettige reg om hom deur 'n hofbevel daartoe te dwing.