PROTESBYEENKOMS: Verootmoedigingsbyeenkoms op Kerkplein, Pretoria om 18:00 (6nm)

AKB reël op Saterdag 31 Mei 2003 'n Verootmoedigingsbyeenkoms op Kerkplein, Pretoria,

Tyd: 18.00 tot ongeveer 20.00 om so Bybelse verset teen die aftakeling van ons godsdiens te toon.

Inligting oor vorige AKB-seminaar op 9 November 2002

Agtergrond ter motivering van protesbyeenkoms op 31 Mei 2003 op Kerkplein, Pretoria volg:

DIE AANSLAG TEEN ONS CHRISTELIKE GELOOF GERIG OP ONS JEUG

Die Minister van Onderwys, prof Kader Asmal het pas in Maart 2003 die ANC se konsep wetgewing oor godsdiens/geloofsonderrig aan alle skole bekend gestel. Dit kom in wese hierop neer:

· Alle kinders moet "neutrale" onderrig ontvang oor die belangrikste gelowe van die wêreld wat ook in Suid-Afrika voorkom. Daarvolgens sal Christus bloot as 'n mens wat bereid was om vir sy oortuigings te sterf bekendgestel word en nie as die Seun van God wat as ons verlosser vir ons sondes aan die kruis gesterf het nie.

· Die Onderwys Departement bepaal die uitkomste van die onderrig ( alle godsdienste is gelyk).

· Slegs diegene wat die Staat se goedgekeurde opleiding ontvang het mag die onderrig doen

( predikante word spesifiek uitgesluit)

· Gesamentlike opening moet 'n multigeloof karakter hê om die ideologie van "eenheid in verskeidenheid " te versterk.

Na skerp reaksie vanuit verskeie Christelike kerke en gemeenskappe, wil dit voorkom asof Prof Asmal gaan toegee t.o.v. die Godsdiensbeoefening soos met gesamentlike opening van 'n skool. Baie Christene en Christelike instansies gaan hiermee gesus word en die res van die beplande wetgewing aanvaar as deel van 'n kompromie. Dit is juis hierin wat die gevaar skuil. Die minister neem 'n sprong van vier treë in sy bevordering van sy neutrale godsdiens - wat opsigself afgodsdiens is, neem een tree terug om die aanslag na 'n ander front te verskuif en behou tersefdertyd die terrein wat met die oorblywende drie treë verower is - 'n oorbekende taktiese beweging veral vervolmaak deur die kommuniste. Die Christene het hier geen slag gewen nie, bloot 'n skermutseling. Die oorlog is nog ver van verby. Die Minister van onderwys en sy Departement se leerordes hergroepeer met die stilswyende instemming van baie Christene. Na alle waarskynlikheid het hulle dit so beplan. Sou die Christene en ander geloofsgroepe nie op die volle aanslag reageer nie, dan was die vierde tree 'n bonus oorwinning.

Die wesenlike aanslag, die hoofstrategie van die multigeloof-orde is juis om by ons kinders, ons jeug 'n neutrale siening en neutrale geloofsbelewenis te vestig. Die "neutrale" onderrig oor alle hoofstroom godsdienste is dit wat by die kinders ingedril word - want dit is wat hy moet leer en waaroor hy getoets word. Dit, en nie die nie-beoefening van godsdiens is die werklike angel in die wetgeweing. Dit moet plaasvind en vind reeds plaas, welliswaar nog nie by alle skole nie maar tog reeds wyd. Die oorblywende deel van die beplande wetgewing sal die infassering van die godlonende neutralegeloof verhaas. Menseregte word as geloof gevestig. As jy 'n kind oor goddiens en geloof leer, vat jy aan sy gees. Geloof is tog immers kennis en vertroue. As die kennis van "goed en kwaad" die kind neutraal laat oor die geloof waarin hy gedoop is, dan gaan sy vertroue mos ook geneutraliseer word. Dan gaan sy geloof mos ondermyn word!

" weet julle nie dat aan wie julle julleself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie - óf van die sonde tot die dood, óf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid ? " (Rom 6:16)

Hierdie konsep wetgewing druis in teen die Bybel, die Woord van God.

Waar Romeine 13 ons enersyds maan om ons te onderwerp aan die magte wat oor ons gestel is, word die owerheid andersyds beskryf as 'n dienaar van God. Met hierdie beplande wetgewing stel die owerheid hom teenoor God, as vyand van God en nie as dienaar van God nie, en vra dat ons God ongehoorsaam moet wees - dit mag en kan ons nie. Romeine 13 moet hier ook in samehang met Openbaring 13 gelees word. Christus leer ons ook : " Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien" ( Mat 4: 9). Aan die Joodse Raad wat hulle verbied om in die Naam van Christus te leer, antwoord Petrus: "Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense." ( Hand 5: 29)

Elke ouer wat die Doop belofte afgelê het, het onderneem om sy kind te onderrig en te laat onderirg in die leer van die Ou en Nuwe Testament. Die beplande wetgewing sal kinders laat onderrig op 'n wyse en in kennis van afgode en valse gelowe wat lynreg teenoor die leer van die Bybel staan.

Daarom sal ons dit met mag en krag bestry ! " terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus ". (II Kor 10: 5 ).

AKB reël op 31 Mei 2003 'n Verootmoedigingsbyeenkoms op Kerkplein, Pretoria, om so Bybelse verset teen die aftakeling van ons godsdiens te toon. Die verootmoedigingsbyeenkoms sal gelei word deur ds Gideon Grobler, Hoofbestuurslid van AKB en President van die Verkennersbeweging. Tydens die geleentheid sal 'n Manifes vir Christenouers bekendgestel word.

Tyd: 18.00 tot ongeveer 20.00.

Alle Christen volksgenote word tot hierdie byeenkoms uitgenooi - nee opgeroep !

Slegs historiese kultuurvlae uit die geskiedenis van die Boere-Afrikaner en vlae/baniere van AKB lid-organisasies sal toegelaat word.

Slegs plakate met vooraf goedgekeurde bewoording. Skakel met die AKB kantoor.

Theuns de Wet
Solum Deo Confido
Voorsitter: AKB

ONDERWYSSEMINAAR Saterdag 9 November 2002

AANGEBIED DEUR AKB IN SAMEWERKING MET AP KERK, WONDERBOOM, BCVO, PESTALLOZI TRUST

PLEK: AP KERK, WONDERBOOM, h/v Daan de Wet Nelrylaan en Ivoryweg (Ivoryweg = 7de Laan), Hesteapark, 3 km wes van Pretoria-Noord

DATUM: Saterdag 9 November 2002

TYD: 8:30 - 13:00

Onthul skokkende feite oor Asmal se onderwysplan:

Transformasie van die Christenkind tot multigeloofs-identiteitslose reënboogwese deur transformasie van die onderwyser.

* Ds Theo Danzfuss: Wat is Gereformeerde Onderwys.

* Leendert van Oostrum: (Pestallozi Trust) Die beeld wat die APK het van die getransformeerde kind.

* Dr Irmhild Horn: (Opvoedkundige) Die ANC se modelonderwyser vs die ware christen onderwyser.

* Magdaleen du Plessis: (Student) Wat en hoe word onderwysers reeds opgelei om aan Asmal se visie te voldoen.

* Dr Chris Jordaan: Teoloog, strateeg. (Kenner van die aanslag teen die Christelike beskawing). Strategie teen die ideologiese aanslag op die siel van ons kind.

NAVRAE: (012) 543 2278 // 082 566 7883

InnoTech Dynamics Web-Ontwerp InnoTech Dynamics Web Design