Naam: Christen Onderwysforum (COF)

Grondslag:
Die Heilige Skrif as die onfeilbare, geinspireerde Woord van God, in sy geheel en in al sy dele - ooreenkomstig die reformatoriese belydenisgrondslag.

Lidmaatskap:
Die Christen Onderwysforum (COF) bestaan uit privaatpersone en meewerkende organisasies.
Toetrede tot die poslys geskied op uitnodiging, terwyl lidmaatskap van die Forum onderhewig is aan goedkeuring deur die lede van die COF.
Lidmaatskapgeld kan vir 'n kalenderjaar vasgestel word om onder andere die webblad van die COF in stand te hou.

Aard van die Forum:
COF is 'n vereniging / netwerk van Christene sonder winsbejag vir die bevordering van Christenonderwys. Die COF funksioneer hoofsaaklik by wyse van internet-kommunikasie en deelname onderling tussen sy lede. Die Forum
gebruik die mees koste-effektiewe tegnologiese middele tot sy beskikking om sy sake te bedryf en sy doelstellings te bevorder. Die interne taal van die COF is Afrikaans.

Doelstellings:
Beskikbaarstelling van inligting aan belanghebbers Mobilisering van hulpbronne vir gepaste effektiewe optrede in belang van Christen Onderwys in die RSA Positiewe beïnvloeding van rolspelers in belang van Christen Onderwys in al sy fasette
Bevordering van opbouende medewerking en onderlinge vertroue tussen meewerkende organisasies in belang van Christen Onderwys

Besluitnemingsmeganismes:
Besluite word geneem en bevestig deur e-pos op die COFlede -poslys.
Voorstelle kan deur enige lid van die COF gemaak word.
Die lede wat op die voorstel reageer by wyse van e-pos vorm 'n kworum. 'n Wettige besluit wat bindend is op alle lede van die COF, is 'n besluit waar die meerderheid van stemme uitgebring word by wyse van e-pos binne 7 dae - insluitend die dag waarop die voorstel gemaak is.

Ampsdraers:
Die COF tree weens sy aard normaalweg op as 'n netwerk met eendragtige deelname, of volgens konsensus, soos bepaal uit bydraes tot die gespreksforum (poslys). Waar buitengewone omstandighede of eksterne omstandighede dit nodig maak, tree die volgende twee ampsdraers op namens die COF. Ampsdraers word op die gewone manier minstens jaarliks
aangewys.
a) Voorsitter / segsman Hy / sy is gemagtig om enige persoon uit die geledere van die lede aan te wys om as segsman op te tree in 'n spesifieke geval, na gelang van omstandighede. Behalwe in uitsonderlike omstandighede roteer die voorsitterskap minstens elke tweede jaar.
b) Sekretaris / penningmeester: Hy / sy behartig die administratiewe en finansiele sake namens die lede en hou behoorlik rekord daarvan. Alle uitgawes moet deur minstens twee van die lede skriftelik gemagtig word - waarvan minstens een normaalweg een van die ampsdraers sal wees. As die voorsitter nie beskikbaar is nie, mag die sekretaris enige persoon aanwys
om namens die voorsitter sy / haar take te verrig. Wanneer beide tydelik nie daartoe in staat sou wees nie, kan enige lid deur nominasie / stemming op die poslys aangewys word.

Finansiële state:
Finansiele state moet jaarliks voor einde Februarie intern nagegaan (geoudit) word deur twee persone wat nie ampsdraers is nie en wat deur die lede aangewys word. Hulle doen verslag oor hul bevindinge op die e-pos gespreksforum.

Koordineerders:
Om fokus te verseker en toe te sien dat al die areas van belang vir die COF in prioriteitsorde die nodige aandag kry, wys die COF jaarliks of ad hoc een of meer koordineerder(s) aan vir 'n spesifieke terrein of saak wat nodig mag wees vir die bevordering van die COF se doelstellings en/of handhawing en uitbouing van sy grondslag. Die koordineerders is
verantwoordelik daarvoor om die finale resultate van hulle werk in elektroniese formaat beskikbaar te stel vir publikasie op die COF se webwerf en/of op die poslys. Die resultate soos gepubliseer op die webwerf, is die rekord van die werksaamhede van die COF. Die sekretaris of persoon deur die sekretaris aangewys, sal periodiek soos nodig - maar in elk geval minstens elke kwartaal - 'n elektroniese rekord van die resultate in 'n geskikte elektroniese stoormedium dupliseer / instandhou.
'n Gemerkte meesterkopie word vir elke kalenderjaar gefinaliseer en by die COF-sekretaris geberg.

InnoTech Dynamics Web-Ontwerp InnoTech Dynamics Web Design