Standpunte oor die verhouding tussen Christelik-volkseie onderwys en CVO-skole
en die kerk.
Verslag en kommentaar oor IKOO beraad van 8 Februarie 2003
IKOO staan vir Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys, en die geleentheid was aangebied by die NG kerk Monumentpark. Dit was met gemengde gevoelens dat ek die beraad gaan bywoon het. Huiwerig aan die een kant omdat ek nie geweet het wat om te wagte te wees nie, maar ook opgewonde om 'n bydrae te kon lewer vir die krisis waarin die onderwyssituasie hom bevind. Ek is ongelukkig nie 'n geleentheid gegun om 'n bydrae te maak nie.
Die tema van die beraad was Die rol van godsdiens in die nasionale kurrikulum verklaring. Die tema is vanuit verskillende hoeke benader en die volgende sprekers was teenwoordig, Prof Rassie Malherbe, Me Freda Wilkens, Prof Hannes van der Walt en Dr D Maluleke (Voorsitter van die ministriële advieskomitee tov godsdiens en onderrig). Van die begin was dit duidelik dat CVO skole, privaatskole of tuisonderrig geen plek gaan speel en nie eers vermeld gaan word tydens die beraad nie.
Prof Rassie Malherbe: Konstitusionele opsies vir godsdiensbeoefening op skool.
Hier het dit duidelik geword dat godsdiensvryheid gewaarborg word deur die konstitusie, en dat ook die staat ondergeskik is aan die grondwet.
Hierdie bepaalde gedagtegang hou egter sekere besliste nadele vir staatskole in maar vir CVO skole, privaatskole en tuisonderrig kan dit weer tot voordeel strek.
In staatskole mag 'n kind nie gedwing word om te kies vir 'n godsdiens nie, dit is die reg en vryheid om self 'n keuse te maak. M.a.w gelowe word gelykgestel en dit is 'n besliste moontlikheid dat in die toekoms elke geloof gelyke kans moet kry om sy geloof te "propageer" op staatskool vlak om die kind die geleentheid te gee om 'n keuse te maak.
Die voordeel lê daarin vir CVO, privaatskole skole en tuisonderrig dat ons kan aandring op ons grondwetlike reg van artikel 15.1 wat godsdiensvryheid waarborg en dat ons juis op daardie artikel met vrymoedigheid ons kinders Christelik kan opvoed en onderrig. Ook die staat is ondergeskik aan die grondwet. Die vraag is egter wie gaan die staat monitor om te sien of hulle die grondwet onderhou? Daarom moet ons ingelig wees aangaande ons opsies en weet wat is ons konstitusionele "regte".
Wat mooi was van Prof Malherbe se betoog is dat hy beklemtoon het dat ons in die verlede te veel op ons leiers staatgemaak het om alle sake insluitend godsdiensaangeleenthede mee te vertrou. Ons het teruggesit en gedink ons is veilig en dat daar kan niks verkeerd kan gaan nie. Alles het egter dramaties verkeerd begin gaan.
Prof Malherbe het ook beklemtoon wat betref staatskole daar verdraagsaamheid en versoenbaarheid moet wees tussen opponerende gedagtes. Op hierdie punt glo ek kan daar verskil word van mekaar om verskeie redes. Nietemin, is dit die gedagte wat deur die grondwet voorgestel word. Godsdiensopvoeding in staatskool verband moet vrywillig wees, en mag nie aanstoot gee nie, dus Christelikheid in staatskole mag nie beklemtoon word nie, en in die toekoms veral vanaf 2005 gaan hierdie saak baie sterker gemonitor word deur die staat. Daar mag ook nie gekeer word dat enige godsdiens vanuit eie perspektief bestudeer word nie, tensy dit haatspraak en vooroordeel aanwakker. In teenstelling daarmee het Gauteng nderwysdepartement op 6 Maart 2001 in Omsendbrief 13 van 2001 in paragraaf 6.4 geskryf: "Godsdienstige inhoud kan nie vanuit een enkele geloofsperspektief aangebied word nie." Asook: "Leerders moet deel wees van die godsdienstige programme by skole en sal nie van klasse verskoon word nie. Afsonderlike programme vir Godsdiensopvoeding sal intern geassesseer word en in die skool se verslagleweringstelsel weerspieël word." Die staat bevorder dus 'n baie aggressiewe "neutrale" godsdiens wat strydig is met die grondwet artikel 15.1 en 15.2.
Slotopmerkings van Prof Malherbe:
1. Godsdienstige Verdraagsaamheid, respek en begrip kan net gekweek word as die godsdienstige regte van mense eerbiedig word, nie as dit ontken word nie.
2. Regering is besig om verkeerde seine uit te stuur asof dit onverdraagsaam teenoor godsdienstige mense is. Dit sal kontra-produktief wees.
3. Die bevordering van die waardes van die grondwet vereis respek vir al daardie waardes, nie net die waardes wat die regering raak nie.
Ek dink dat Prof Malherbe heelwat dinge gesê het aangaande die reg wat goed benut kan word vir die toekoms en vir die handhawing en bevordering van CVO skole, privaatskole en tuisonderrig. Dit blyk egter dat die staatskole onder voortdurende druk gaan kom om 'n "neutrale" godsdiens te handhaaf op staatskole. Alhoewel dit strydig is met die grondwet moet 'n mens jouself die vrae afvra: Wie gaan die regering grondwetlike hof toe neem? Maak nie saak wat die uitspraak van die howe, staatskole bly die eiendom van die staat, en deur subtiele manipulering, gaan kinders onder voortdurende indoktinasie te staan kom. Wie gaan dit keer?
Me Freda Wilkens: Die rol van godsdiens in die nasionale kurrikulum verklaring.
'n Hele paar sake het ernstige vrae laat ontstaan. Sy het gesê dat die nuwe kurrikulum beoog onder meer, meer groepswerk as individuele prestasies.
Die kennisaspek is sake wat meer op die agtergrond geplaas gaan word. Daar word op gekonsentreer om meer in groepsverband te presteer op skoolvlak. Dit is tog 'n redelike algemene feit dat 'n mens eers 'n basiese kennis van 'n saak behoort te hê en eers behoorlik oor daardie saak getoets te kan word voordat 'n mens 'n sinvolle bydrae kan maak. Mens kan eers begin redeneer oor 'n saak as jy die basiese konsepte aan die hand waarvan jy moet redeneer kan beheers! Klem val nie meer op onderwysers wat kennis oordra nie, maar op groepswerk van skoliere wat binne groepsverband mekaar moet inlig en saam kennis en verstaan van sake moet uitklaar en probleme oplos.
Hierdie akademiese sienswyse moet dan ook neerslag vind op alle lewensterreine van die skoolvlak, en noodwendig raak dit ook godsdiensonderrig op staatskoolvlak. Gr. 1 tot 3 sluit bv in leervaardighede oor ander gelowe se simbole soos bv geboue van aanbidding, boeke wat gebruik word ens. Hierdie leervaardighede mag nie bevooroordelend aan kinders oorgedra word nie. Dit moet as te ware "neutraal" oorgedra word, want die kind moet uiteindelik self 'n keuse oor die aangeleentheid kan maak. Hierdie is reeds 'n blatante breinspoeling van ons volkskinders.
Hoe kan van 6 jarige kind verwag word om reeds op daardie vlak 'n keuse tussen gelowe te maak, terwyl hy/sy nog nie eers die begrip van God-Drie-Eenheid kan verstaan en begryp nie. Dit is mos 'kuikenmoord'!
'n Volgende aspek wat uitgelig moet word handel oor volksaangeleenthede. Baie van ons kan bv. volkspeles onthou en die kultuur daaragter. Die nuwe kurrikulum maak voorsiening vir "rituele" wat aan kinders geleer moet word.
Die aard van die ritueel hang van die onderwyser af. Alhoewel daar in laasgenoemde verband oop ruimte is om die saak volksgerig te hou is daar egter ander probleme. Die woord "ritueel" is 'n woord met 'n negatiewe beeld binne ons Christelike verband. Ritueel word meermale in verband gebring met sake soos satanisme, stamgelowe, stamdanse ens. Vir 'n gelowige ouer van verbondskinders is dit 'n woord wat nie kan afgaan nie, in elke geval nie in die positiewe sin van die woord nie. En al kan die onderwyser die woord nou inkleur volgens die eis van omstandighede, wat maak die onderwyser as daar Moslems, Hindoes, Zoeloes, Xhosas, Afrikaners ens in die klas verteenwoordig is. Hoe gaan daardie "rituele" lyk wat hulle gaan oefen? Ek sidder as ek dink aan die gevolge.
Prof Hannes van der Walt: Die nasionale kurrikulum verklaring - 'n evaluering en terugskouing.
Ek het Prof van der Walt uiters onsensitief beleef teenoor enige persoon wat buite die staatskool sisteem staan. Die venynigheid waarmee dikwels gesinspeel word dat bv. CVO skole AWB of APK skool mentaliteit is, kan lankal nie meer afgaan nie. Die gedagte dat as jy nie deel is van die staatskool verband nie is jy besig om op die B-veld te speel, so asof bv. CVO skole minderwaardige skole is, of maar net die B span van die staatskole is, verklaar die onsensitiwiteit waarmee hy sy saak hanteer het. Ek gee toe dat baie ouers se kinders is nog in staatskole en dat daar beskermend gestaan moet word teenoor daardie ouers om hulle kinders se belange te beskerm op staatskool. Dit beteken egter nog steeds nie dat enige ander model buiten staatsonderwys 'n veragtelike model is nie. Prof van der Walt het verder gesê dat ons moet getuig na buite m.a.w teenoor die owerheid deur in gesprek te treë met hulle oor aangeleenthede wat die toekoms van ons kinders raak. Maar het hy onmiddelik bygevoeg, "verwag geen resultate nie."
Ek dink ook dat 'n mens voortdurende getuienis moet lewer, maar ook vra ek myself die vraag af. As jy getuienis lewer en jy bereik niks nie, veral waar die toekoms van jou kind ter sprake is, hoekom is jou kind dan nog in 'n sisteem waar niemand jou stem hoor nie? Prof van der Walt het myns insiens 'n baie negatiewe beeld laat val op enige onderwysstelsel buiten die staat sisteem. Sy klem het wel geval op betrokkenheid binne staatskool, wat ek kan saamstem dat ouers moet betrokke raak by hulle kinders se opvoeding en onderrig. Maar deel daarvan is om jou kinders dalk van die "A-veld" te verwyder omdat daar te veel "dissels, dorings en klippe" is waar geen plan mee gemaak word nie.
Dr D Maluleke: Advieskomitee aangaande godsdiens
Dr D Maluleke het inligting kom gee oor die funksionering van die advieskomitee aangaande godsdiens en onderrig aan die minister. Hy het bepleit dat daar eenheid binne diversiteit moet wees. Dit is egter 'n baie moeilike gedagte omdat daar altyd oorheersing sal wees vanaf die een kant met 'n bepaalde ideologie. Die rol wat die advieskomitee speel wat bestaan uit verskeie kerklike leiers kan sekerlik nie in twyfel getrek word nie, maar as 'n mens na die toekomsbeeld kyk wil 'n mens jouself afvra na die effektiwiteit van die advieskomitee van die minister. Die nuwe beplanning rondom veral godsdiensaangeleenthede plaas 'n ersntige vraag op die komitee, aangesien die handhawing van Christelike onderrig verseker iets van die verlede is in die staatskole.
Slotopmerkings en indrukke:
Gedurende die beraad wat plaasgevind het is dit baie duidelik dat daar nie eers gedink of enige aandag gegee gaan word aan bv. CVO skole of enige ander alternatief nie. 'n Paar sprekers wat wel gelukkig genoeg was om geleentheid te kry vir 'n spreekbeurt het die saak beklemtoon, maar dit was soos water op 'n eend se rug. Me Linda Malan het 'n blaaibord saamgebring wat in 'n skool gebruik is vir lewensoriëntering. Die eerste bladsy het reeds duidelik beklemtoon dat dit veel meer is as net 'n oriëntering gaan, aangesien die blaaibord met "pornografiese voorstellings" belaai was. Die voorstellings was so eksplisiet, dat die bord nie verby die eerste bladsy gevorder het nie, weens skande en skaamte. Die vraag is gaan sulke tipe van lewensoriëntering jeugdiges weerhou van seksuele dade of hulle eerder motiveer?
Wat egter belangrik bly is dat ons as verbondsouers 'n voortdurende "getuienislewering" moet doen op die verskillende velde van die lewe waar ons werksaam is. Maar ons moet ons nie laat misgis nie, daar is veranderinge op die horison oppad en ook alreeds hier, wat ernstige komplikasies gaan inhou vir die toekoms van ons kinders. Die Kerk saam met die skool en ouerhuis was drie baie belangrike bondgenote van Christelike opvoeding en onderwys. Dit is soos 'n potjiekospot wat op drie bene staan. Die been van Christelike onderwys in staatskole is baie vinnig besig om afgesaag te word. Ons almal weet dat so 'n pot nie op twee bene kan staan nie. Ons moet dus voorbereidings en alternatiewe beplan sodat daardie "pot" wat volgens ons oortuigings die "geur" van Christelikheid moet afgee nie omval nie. Daar wag groot skokke op nuwe ouers en huidige ouers van kinders in staatskole. Teen 2005 gaan hierdie hele veldtog verintensifiseer word.
Die vraag is nie of dinge gaan verander nie, want dit gaan, en dit is baie duidelik dat niemand hierdie proses gaan keer nie. Die vraag is, hoe gaan die Kerk hierdie uitdaging hanteer, en hoe gaan verbondsouers hierdie uitdagings die hoof bied. My mening is dat daar na alternatiewe gekyk sal moet word, want die getuienislewering teenoor staat val op dowe ore.
Hulle luister eenvoudig nie meer nie. Hierdie is nie bangmaakstories nie maar ware feite. Dit kan verder nagelees word in die onderwysverklaring oor die veranderings wat aan die kom is. Een ding is seker: Ons kerk kan nie met verantwoordelikheid voortgaan om op die hoogste vlak slegs in gesprek te wees met die staatsonderwysinstansies as onwillige gespreksgenote, terwyl gewillige aktief meewerkende instansie op presies dieselfde geloofsgrondslag as ons kerk - soos die CVO-skole - in die koue gelaat word nie. Ons kan seker volstruispolitiek toepas en aanvaar alles is reg of dis tog nie so erg nie, maar vir myself dank ek die Here dat daar ander alternatiewe is waar ek my kinders met vrede en groot gemoedsrus elke dag by die skool kan gaan aflaai, met die wete die onderwys is Christelik Volkseie en van 'n baie hoë standaard!
Verbondskinders in staatskole - is dit nog moontlik?
Ds W Olivier
Die verbondsouer se verantwoordelikheid
Alle ouers wat lidmate is van kerke met 'n Calvinistiese belydenisgrondslag lê by die doop van hulle kinders o.a. die volgende gelofte voor die Here af:
Beloof u om hierdie kind, van wie u die ouer is, in dié leer na die beste van u vermoë self te onderrig en te laat onderrig?
Deur "Ja" hierop te antwoord, verbind alle verbondsouers hulle om hul kinders onderrig te laat ontvang oor die leer van die kerk. Dit is volgens die voorafgaande doopbelofte die leer van die Ou en Nuwe Testament wat in die kerk se belydenisskrifte saamgevat is. Met ander woorde elke ouer van 'n verbondskind het die verpligting voor God om toe te sien dat so 'n kind opgevoed word binne die raamwerk van die Woord van God en die Belydenisskrifte. Dit gebeur natuurlik by die Verbondsonderrig binne gemeenteverband en in die Christelike gesin wanneer daar huisgodsdiens gehou word.
Uiters belangrike opvoedingswerk vind egter ook binne skoolverband plaas, bloot omdat dit die plek is waar ons kinders elke dag vir lang tye blootgestel is aan die invloed wat daar van veral die onderwysers uitgaan. Verbondsouers het die verpligting om toe te sien dat hierdie opvoeding ook volgens hulle doopbelofte plaasvind. Dit is hier waar die krisis ontstaan met die nuwe onderwysbedeling in Suid-Afrika. In die staatsondersteunde skole mag ouers nie meer aanspraak maak op 'n suiwer Christelike skoolopvoeding nie - wat nog te sê dat dit volgens die eise van die verbond moet geskied. Om hierdie rede behoort verbondsouers die alternatief wat die BCVO-skole aanbied aan te gryp, omdat hierdie skoolmodel onbeskaamd in die verbond geanker is.
By CVO-skole moet alle lesinhoud wat by die skool aangebied word, volledig voldoen aan die eise van die Woord van God, soos suiwer vertolk in die Drie Formuliere van Eenheid. Waar lesinhoude uit die vorige onderwysbedeling nie voldoen aan hierdie vereistes, word leerplanne gevolg wat hersien is deur vakkundiges wat ook onderlê is in die gereformeerde leer. Ter wille van eensgesindheid oor hierdie kernaspek en om verskeurdheid in die kindergemoed te voorkom, laat CVO-skole slegs ouers toe wat die Belydenisskrifte as hulle persoonlike geloofsoortuiging onderskryf.
Die daarstelling van eie verbeterde leerplanne het tot gevolg gehad dat die BCVO ook voorsiening moes maak vir 'n eie matriekeksamen. Hiermee is groot sukses behaal deurdat die BCVO- Eksamenraad formeel toestemming verkry het om op te tree as eksamenineringsinstansie. Die BCVO Seniorsertifikaateksamen van 1997 is deur SAFSERT, die amptelike sertifiseringsraad, sonder voorbehoud gesertifiseer, op grond van die standaarde wat gehandhaaf is en die integriteit waarmee dit geadministreer is. Die welslae van die eerste matriekgroep wat die BCVO-senior sertifikaateksamen afgelê het, is al in verskillende opsigte goeie vrug vir hulle opgelewer. Die uitslae staan bo verdenking en geniet hoë aansien by sowel werkgewers as tersiêre inrigtings. In verskeie gevalle is dit beloon met onbelemmerde toelating tot graadstudie en toekenning van prestasiebeurse.
Omdat die onderwyspersoneel ook streng gekeur word met die oog op hulle vakkennis sowel as geloofsoortuigings, kan verbondsouers hulle kinders met groot vrymoedigheid toevertrou aan BCVO-skole. Selfs die koste verbonde aan onafhanklike CVO-skole is laag as dit vergelyk word met sommige vooraanstaande staatskole.
Vanselfsprekend behoort verbondsouers, kragtens hulle doopbelofte, bereid te wees om die opofferings te maak wat nodig is om dit vir hulle kinders moontlik te maak om hulle opvoeding binne verbondsverband te ontvang.
Die kerk se verantwoordelikheid
Kerke wat glo dat die Calvinistiese Protestantse geloofsleer die suiwer Woordbegronde en tydbepoefde beginsels verwoord, behoort hierdie oortuiging ook met die daad te betuig.
Te lank is lidmate en predikante binne ons kerke toegelaat om onbelemmerd - dikwels in naam van die kerk - as pleitbesorgers vir 'n geloofsneutrale en toenemend vyandige staatskoolstelsel op te tree. Te lank het meeste gemeentes van Afrikaanse kerke weggeskram van die noodsaak om met woord en daad aktief op te tree in belang van Christelik-volkseie onderwys. Te lank is aan die een kant lippediens bewys aan die hoogste belange van ons kinders en die noodsaak van Christelike, volkseie en moedertaalonderrig, terwyl aan die ander kant die verwording van die staatskoolstelsel na 'n sekulêre en kultuurverwilderende omgewing weggepraat is. Voorbeelde hiervan is al gevind waar die kerk se amptelike Raad aan die een kant gemeentes oproep om op plaaslike vlak ouerverenigings by staatskole en organisasies van bestuursliggame by staatskole 'te ondersteun en indien moontlik finansieel tot hul werksaamhede by te dra', maar aan die ander kant net die floue uitspraak gemaak word dat privaatskole of CVO-skole ook 'as 'n moontlikheid aanvaar word naas die staatsondersteunde skool'.
Die grondoorsaak van hierdie probleem kan waarskynlik gevind word in die meesleurende effek van die geleidelikheid van soms ongemerkte maar meedoënlose aanhoudende verval in godsdienstige en kulturele waardes by staatskole. Dit kom egter ook uit die aktiewe meewerking van vooraanstaande persone in sommige gemeentes wat so verstrengel geraak het met die staatskole se bestuurstelsels en die - soms goedbedoelde maar misplaaste - herhaling van die misleidende versekerings deur die amptelike onderwysstelsel en politici. Hierdie proses het ongelukkig nog steeds nie ten einde gekom nie. Wanneer sommige van hierdie figure uit onkunde of moedswilligheid hulself bedien met valse getuienis teen die naaste en disinformasie oor Christelik-volkseie skole skep of herhaal op amptelike kerkvergaderings, het daar 'n onhoudbare situasie ontstaan wat onmiddellike regstelling vereis.
Stellings deur teoloë op 'n onlangse kerkvergadering - waarna ook oor die radio verwys is - dat die woord "indien" in die uitspraak "Lidmate bevorder die beste onderwysgeleenthede vir die kinders van die Kerk en volk deur ….. alternatiewe of aanvullende onderwys te vind en in stand te hou indien die onderwys die Christelike opvoeding van die ouerhuis verhinder", nog nie van toepassing is in hierdie nuwe vervalle onderwysbedeling nie, asook die valse beskimping van lidmate wat betrokke is by die uitbou van Christelike-volkseie onderwys as sou wat hulle help opbou het "sektaries" en verbonde wees aan 'n bepaalde kerkgenootskap wees is totaal onaanvaarbaar weens die vals getuienis teenoor die naaste daarin vervat.
Breedsprakige stellings soos: "Kurrikulum 2005 as beleid van die Onderwysdepartement is eweneens nie in alle fasette onbruikbaar nie" is werklik 'n patetiese reaksie op 'n kurrikulum waarvan die benadering bepaal is deur die ekstrak van die humanistiese uitgangspunte van die sogenaamde uitkomsgebaseerde onderwysbenadering, kommunistiese politieke beleid en die aardgebonde denksisteem van die ongekerstende Afrika-mens.
Is dit werklik al advies waarmee die betrokke woordvoerders in die kerk kan reageer as Kurrikulum 2005 met die oppervlakkig mooiklinkende "to interact critically with the values and attitudes that are learnt in social organisations and structures eg. school, home, church", waarmee van kinders vereis word om die waardes en geloof wat deur hulle ouers en die kerk aan hulle voorgehou is te bevraagteken en te vervang met die waardes wat die nuwe Suid-Afrika se staatsbestel aan hulle voorhou as gewensde uitkomste? (Let in kontras daarmee op die verswyging van ook kritiese evaluering van die waardes onderliggend aan die kurrikulum, die onderwysbeleid en staatsvoorskrifte!) Die Suid-Afrikaanse 'OBE' is vol van hierdie nuwe religieuse waardes - nie meer die waardes van die ouers nie, maar wel van die staat. Die soort waardes wat lank reeds oorgedra en beklemtoon is in kommunistiese onderwysstelsels. Kurrikulum 2005 se nuwe 'godsdiens' en 'uitkomste' is 'menseregte' met 'n 'new age' tipe spiritualiteit.
As dit die beste reaksie is wat die woordvoerders kan uitstotter op Kurrikulum 2005 se agressiewe vereistes ten opsigte van die sogenaamde lewensoriëntasie, troos dit werklik nie dat gepleit word dat die kerk meer moet doen om 'in te lig en voor te lig oor die inhoud, implikasies, voor en nadele van Kurrikulum 2005" nie. Wat help dit om te soek na deskundiges wat "kan ondersoek instel, inlig en adviseer" as die gemotiveerde gepubliseerde kritiek wat bestaan bloot geignoreer is in paaiende gevolgtrekkings soos wat hierbo aangehaal is uit amptelike verslae.
Ter agtergrond: Daar staan onder andere in Kurrikulum 2005 as voorgeskrewe kurrikulum- benadering:
'Life orientation therefore' ….
'Works for a transformation of society in the interests of promoting a human rights culture, underpinned by:
- the striving for a fully inclusive, egalitarian society free of all unjust discrimination, as underpinned by the Constitution.'
'Demonstrate value and respect for human rights as reflected in Ubuntu and other similar philosophies'.
Is ons regtig so verblind dat ons as Christen-Afrikaners nie kan of wil verstaan wat beoog word as onder die opskrif tale en kommunikasie staan:
"Develop and reflect critically on values and attitudes;
Language as a social construct is discussed and analysed with emphasis on contexts such as:" …….
* "gender and race contexts
* historical, social and political contexts"
Onder die bronne van kennis oor die Suid-Afrikaanse samelewing word genoem:
'Contemporary oral sources (e.g. interviews of old people; interviews of people who lived during important events; oral testimony in courts and the Truth and Reconciliation Commission'
' Oral sources should be given as much weight as any other sources.'
'Processes of change, to include:
* dispossession
* repression
* resistance and struggle
* liberation.'
'Resistance by individuals, communities and organisations (locally, nationally and internationally).
By the end of this phase the learner should be able to show how the impact of Apartheid on development reveals the nature of the system as a whole' ….
Of as selfs in die wiskundige leerarea mens byvoorbeeld vind:
" ….. engage with political organisational systems and socio-economic relations. "
" Evidence of the use of number patterns to address real and simulated problems
- Use sequences and series to model real and simulated problems
- Test consistency of solution
- Identify equity issues of race, class and gender that arise from the manipulation of numbers in a social context".
Die sosiale oogmerke van uitkomsgerigte onderwys dui op politieke oogmerke en onregmatige indringing in die persoon en gesinslewe van kinders en hulle opvoeding. Die waarskuwing en beswaar van die Amerikaanse regter, Patrick J. Madden, is hier van pas: "Abandoning traditional concepts of teaching, we have allowed educational theorists who seemingly are more concerned with social engineering than with education to take over the formation of our children." Hierdie sosiale oogmerke druis loodreg in teen die oogmerke van verbondsonderrig deur die kerk en verbondsouers aan dooplidmate.
Dit is die taak van die kerk om mee te werk aan die geestelike vorming van die jeug wat sy plek in die gemeente en sy weg in die wêreld moet vind. Dit beteken ook dat die kerk aktief moet werk om afbrekende invloede op die jeug van die kerk en die volk sover moontlik af te weer en te neutraliseer. Kragtens sy roeping om lewens volgens die beloftes en die wil van God in te rig, is die kerk mede-verantwoordelik vir die opvoeding van en die onderwys aan die jeug van die hele volk in die Christelik-volkseie gees - ook in huisgesin en skool.
Net soos wat die kerke gehoorsaam moet wees aan die roeping van die Here deur die volwasse lidmate in elke situasie van hulle lewe te begelei, het die kerk ook die roeping om die kinders van die kerk in elke situasie te begelei en te ondersteun. Die doopbelofte van die ouers bind nie net die ouers nie, maar ook die kerk.
Die verandering in die horison van die kind geskied normaalweg geleidelik en gelykmatig. Die eerste werklike groot en skielike verandering is die begin van sy skoolloopbaan. Hoe vreemder die skool, hoe groter die ontwrigting vir die kind. As dit moet plaasvind in 'n taal anders as die moedertaal, met mense wat in hulle aard en optrede vir die kind kultuurvreemd is, kan die inskakeling by die skool baie ernstig ontwrig word. As die skool vreemde waardes en kultuur as die norm aan u kind voorhou, loop u die wesentlike risiko van ernstige ontsporing van u kind weens die ervaring van die verskynsel wat beskryf word as 'dissonansie', waar die kind gestroop word van sy waardestelsel, gewete en sekuriteitsbelewing weens die oorspoeling met konflikterende waardes wat almal as 'reg' aan hom of haar voorgehou word. Die uiteinde hiervan is 'n verwarde en ontwrigte wese, sonder ankers in die lewe.
Vervreemding van die kind uit die kultuur van sy eie gemeenskap, bring ook vervreemding tussen die kind en sy kerk. Die Christelike kerk praat van die vroegste tyd die taal van die volk waarbinne hy staan en waar hy werk.
Die godsdiens en geloof is in baie opsigte deel van die kultuur van die mense en word vanselfsprekend op volkseie wyse beoefen. Om hierdie rede is die kunsmatige afstand wat geskep is tussen CVO-skole en die kerk deur die verslawing van individue aan die staatskoolopset, heeltemal onaanvaarbaar en 'n ernstige ontduiking van die kerke se verantwoordelikheid.
Besluite uit die Besluiteregister van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se 66ste Algemene Kerkvergadering
- datum vanaf die web onbekend.
(Gaan na www.nhk.co.za, kliek "GAAN VOORT", dan "Besluitebundel 66ste AKV" en kies dan Hoofstuk 7)
7.4.2.2
Bbevordering en benutting van beste onderwysgeleenthede vir kinders van die kerk : Ring van Potgietersrus
* Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ag dit die plig van sy lidmate om toe te sien dat die beste onderwysgeleenthede vir die kinders van die Kerk en volk bevorder word deur
** sover moontlik toe te sien dat onderwysers met Christelike geloofsoortuiging en 'n aanvaarbare kultuuragtergrond die onderwys behartig
** alternatiewe of aanvullende onderwys gevind en in stand gehou word indien die onderwys die Christelike opvoeding van die ouerhuis verhinder
** kinders wat verwaarloos is of wie se ouers nie oor die middele beskik nie, daadwerklik by te staan.
* Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ag dit noodsaaklik om deur middel van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en ook op ander vlakke
** die lidmate van die Kerk te waarsku teen die effek van die leerstof wat op die kinders van ons Kerk en volk afgedwing word uit hoofde van Curriculum 2005 waardeur die kinders losgemaak word van die Christelike geloofsoortuiging en volkseie kultuurerfenis
** teenoor die owerheid te getuig ten opsigte van onaanvaarbare leerstof wat op die kinders van die Kerk en volk afgedwing word, wetende dat sodanige kinders deel vorm van 'n kerk/volk met 'n bepaalde Christelike geloofsoortuiging.
* Lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word opgeroep om hulle deeglik te vergewis van die onderwys en leerstof waaraan hulle kinders onderwerp word en indien dit sou blyk dat sodanige onderwys die Christelike opvoeding van die ouerhuis verhinder, alternatiewe of aanvullende onderwys te vind of te ondersteun en in stand te hou.
Besluit
1. Die beskrywingspunt word teruggetrek.
2. Die volgende voorstel word aanvaar:
2.1 Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
* getuig teenoor die owerheid wanneer leerstof wat indruis teen ons Christelike geloof vir ons kinders voorgeskryf word
* roep lidmate op om hulle deeglik te vergewis van die leerstof waaraan ons kinders onderwerp word en om alternatiewe of aanvullende onderwys te vind indien die bestaande onderwys die ouerhuis se Christelike opvoeding verhinder
oedig kinders van die Kerk aan om hulle vir 'n onderwysloopbaan te bekwaam.