Wat van jou?

Artikel deur oudl Ben van Tonder, Sameroeper NHK Meyerspark se gemeentekomitee vir Opvoeding en Onderwys

Daar is seker min sake wat ons as verbondsouers en die bevoorregte oupas en oumas in ons geledere so na aan die hart lê, as die innerlike belange van ons kinders.

Ongelukkig word ons byna daagliks oorspoel met allerhande 'nuwighede' op onderwysgebied wat die Christelike grondslag van die opvoeding, wat ons tuis en by die gemeente aan ons dooplidmate bied (en soms beter behoort te bied!) uitkalwe en ondergrawe.

Ons ouergemeenskap het deur die dekades so gewoond geword aan die soort van Christelike begronding van die gratis onderwys wat vir ons kinders destyds van die staat se kant in ruil vir ons belastinggeld aangebied is, dat ons geneig is om soms soos Rip van Winkel wakker te word en dan te dink daarbuite is dit nog so. Dit is nie!

Die werklikheid is dat intergeloof (met die gepaardgaande ontkenning dat Christus die enigste Weg tot saligheid is), goedpraat van onsedelikheid (onder die dekmantel dat MIV / VIGS bestry word) en dies meer is ingebou in amper elke nuwe skoolhandboek van u kind - ja kyk maar in die skooltasse, ook in byvoorbeeld nuwe wiskunde-handboeke! Dit is ook in amper elke leerarea van die nuwe hersiene Kurrikulum 2005 - veral in die nuwe verpligte matriekvak "Lewensoriëntering" en die Kuns en kultuur-leerarea. Dan praat ons nog nie eers van die aggressiewe vyandskap teenoor ons Afrikanerkultuur en westerse beskawing wat die wesentlik die onderliggende uitgangspunt van die staatskurrikulum en die staatsvoorskrifte vir 'assessering' en in die 'statement on values in education' is nie.

Het dit nie dalk tyd geword dat ons ophou om onsself jammer te kry oor die moeilike omstandighede waarbinne ons leef en daadkragtig ons geloofsoortuiging ook op die terrein van die opvoeding uitleef in dankbaarheid nie?

Ons is nie die eerste in so 'n lastige posisie nie!! Voor ons is al geskryf:

'Die skoolwet het bepaal dat die skool nie sektaries sou wees nie en dat godsdiensonderwys alleen gegee kan word in afgesonderde tyd buite gewone skoolure, mits geen kinders gedwing word om daarby te wees.

My standpunt was dat godsdiens nie uitgesluit kan word uit die onderwys nie en dat die (staat)skool dus onchristelik was. Ek is vreeslik oor die boekie aangeval, blykbaar meestal deur predikante, hoewel naamloos.

Uit vyandskap teen die positief christelike standpunt word jongmense weggelok na staatskole. Ek het dikwels 'n oproep gemaak tot vrye (onafhanklike) skole, maar dit het net op een plek weerklank gevind.

Na wydondersteunde petisies aan die parlement het Onze Jan 'n wysiging aan die wet voorgestel wat niks beteken het nie. Daarmee is egter die teenstand se nek gebreek.'

'Die verklaring vir die feit dat so 'n kosbare saak soos CNO destyds al so 'n verset wakker geroep het - en dit van kerklike kant - moet daarin gesoek word dat die staatskool toe reeds met 'n christelike vernis oordek was.'

Talryke versoeke is ontvang om … tot die politiek toe te tree ter wille van godsdiensonderwys en meer godsdiensvryheid vir staatskole. Ek het dit bedank uit beginsel, omdat ek nie 'n verbetering van die staatskool begeer nie, maar algehele vrymaking van alle staatsbemoeiing. ……….

Met 'n stelsel van onderwys wat moet uitloop op vernietiging van die taal van ons kerk, kan ons geen vrede hê nie ….. Dit is egter nie net daarom dat ons die stelsel bestry nie, maar in die eerste plek omdat dit nadelig is vir die verstandelike ontwikkeling van ons kinders ……'

Totius: "Die Christelike skool en sy verhouding tot Kerk en staat". 1876 [Versamelde werke deel I, p 50, 54, 55 - effe gewysig tot hedendaagse Afrikaans]

Ek kan getuig dat ek soortgelyke ervarings gehad het in 2002 by ons plaaslike ringsraad vir gesinsorg, waar sommige aggressief daarop aandring dat om die volstruiskop in die sand te steek die enigste benadering is. Wat 'n verleentheid vir God se strydende kerk in Pretoria! Kom ons verander ons verleentheid in 'n geleentheid:

1 Petrus 3:15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

Kom oor en help ons by ons plaaslike se komitee vir opvoeding en onderwys! Daar is baie inligting en hulpmiddels maklik beskikbaar as JY wil meewerk met ons gemeente se komitee vir gesinsorg, subgroep vir onderwys en opvoeding.

Hier is 'n paar webwerwe

Christen Onderwysforum (COF) www.cof.org za,

CVO Skool Pretoria www.cvopta.co.za

(Terloops: Gaan kyk sommer daar ook vir lewensreddende inligting oor spoedeisende optrede in geval MIV / VIGS-blootstelling.)

Ons het plaaslik ook toegang tot mnr Sarel van der Merwe se 2002-video oor "Intergeloofs- en New Age Infiltrasie van die Onderwys" as u belangstel, daar vind gereeld Christen-seminare plaas oor die onderwerp - soos weer op 12 en 19 Oktober 2002, daar is huisbesoekhulpmiddels beskikbaar oor bevordering van Christen-onderwys ens ens - te veel om op te noem.

Skakel gerus ons leraar dr Malan Storm of dr Ben van Tonder 083 637 3470 - ons sal graag help waar ons kan in belang van Christen Onderwys, kerk en volk!

Ter wille van ons kinders!

Naskrif:

'n Groep Christen-Afrikaners van verskillende onderwysagtergronde, verenigings en kerke het op 28 Augustus 2002 op inisiatief van mev Linda Malan van VCHO byeengekom en besluit dat netwerk-samewerking (d.w.s. sonder verlies van individue of groepe se identiteit) die aangewese weg vorentoe is. So het die Christen Onderwysforum (COF), www.cof.org.za en die CO Netwerk-internetposlys tot stand gekom ………

Psalm 127:1 As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

InnoTech Dynamics Web-Ontwerp InnoTech Dynamics Web Design