Geagte Lesers,
Sedert 2001 het die onderwys in Suid-Afrika konstant 'n hoë profiel gehandhaaf, as gevolg van die ingrypende veranderings wat die minister van onderwys, min. Kader Asmal, ingevoer het.
Dit is nou 'n goeie tyd om te besin oor die ontwikkelinge in die onderwys vir 2 redes.
Eerstens het daar genoeg komponente in plek geval, sodat ons 'n geheelbeeld kan begin vorm van 'n totaal nuwe onderwysbedeling wat deur die minister in plek gestel word.
Tweedens was dit op 31 Mei 2003 presies een jaar gelede sedert die sleutelkomponent van die nuwe onderwysbedeling, naamlik die Nasionale Kurrikulum Verklaring amptelik deur die staat gepromulgeer is.
In hierdie uitgawe is daar twee bydraes oor die onderwys wat nou bymekaar aansluit.
In die eerste bydrae word daar in oorsig gegee oor die komponente waaruit die onderwysbedeling bestaan, hoe dit tot stand gekom het en op watter wyse ons gehoorsaam moet wees aan hierdie bedeling. 'n Belangrike gevolgtrekking wat hier gemaak word, is dat gehoorsaamheid aan die owerheid in 'n regstaat soos Suid-Afrika beteken dat ons in die eerste plek aan die hoogste gesag van die owerheid, naamlik die grondwet, gehoorsaam moet wees. Die grondwet stel dit soos volg :
This Constitution is the supreme law of the Republic; law or conduct inconsistent with it is invalid, and the obligations imposed by it must be fulfilled.
Dit impliseer dat ons gehoorsaam moet wees aan die nuwe onderwysbedeling, slegs in soverre dit in ooreenstemming met die grondwet is. Dit impliseer verder dat dit die taak van burgers is om deur middel van die howe, die owerheid te dwing om gehoorsaam te wees aan die grondwet.
Die tweede bydrae lewer die argumente wat aantoon dat die nuwe onderwysbedeling in stryd in die grondwet is. Die implikasie hiervan is dat die nuwe onderwysbedeling ongeldig is. Hierdie implikasie gee aan gereformeerdes die ruimte waarbinne gereformeerde onderwys aangebied kan word buite die onderwysbedeling, maar tog in lyn met die vryheid wat die grondwet ons gee. Dit gee ons egter ook die verantwoordelikheid om deur middel van die howe, die nuwe onderwysbedeling te verander sodat dit in lyn met die grondwet is.
INHOUD
Ontwikkelinge in die onderwys 1999 – 2003 p. 2
Religious Freedom in Education p. 11
Ontwikkelinge in die onderwys 1999 – 2003 deur Bouwe van der Eems
Lord Acton, 'n Engelse filosoof het rondom die einde van die 19de eeu gesê : "For centuries it was never discovered that education was a function of the State, and the State never attempted to educate. But when modern absolutism arose, it laid claim to everything on behalf of the sovereign power….When the revolutionary theory of government began to prevail, and Church and State found that they were educating for opposite ends and in a contradictory spirit, it became necessary to remove children entirely from the influence of religion.1
Dit wat Lord Acton meer as honderd jaar gelede gesê het, kan ons nou duidelik sien in die nuwe onderwysbedeling wat in Suid-Afrika ingevoer word.
Met die bewindsoorname van die ANC in 1994, het 'n nuwe politieke bedeling in plek gekom. Hierdie politieke bedeling is gebasseer op 'n nuwe grondwet. In hierdie nuwe politieke bedeling, het die onderwys eers min of meer aangegaan soos gewoonlik.
In 1999 het prof. Kader Asmal minister van onderwys geword. Hy het 'n visie gehad, en hierdie visie is geïmplementeer deur 'n hele nuwe onderwysbedeling in plek te stel. Sy visie word netjies saamgevat in 'n onderhoud met die Sunday Times op 6 Mei 2001. Hier word hy gevra of hy probleme het met privaatskole en hierop antwoord hy : No. I've always believed in a unitary school system, like the German system, but the Constitution says there will be private schools so I have no problem with them. There are many private schools with a Cambridge examination which I have problems with. It's basedentirely on an English syllabus, and we're trying to create a South African school system with values that are truly South African.
Uit hierdie uitspraak kan ons twee dinge aflei a) Min. Asmal hou nie van privaatskole nie maar verdra hulle omdat die grondwet dit toelaat. b) Min. Asmal het 'n probleem daarmee dat skole in Suid-Afrika waardes oordra wat nie ooreenstem met waardes wat hy beskou as eg Suid-Afrikaanse waardes nie. Die onderwysbedeling wat min. Asmal besig is om in plek te stel, is daarom daarop gerig om alle skole in Suid-Afrika in te span om sy sg. Suid-Afrikaanse waardes aan die volgende geslag oor te dra.
Hierdie artikel probeer 'n oorsig te gee van hoe hierdie nuwe onderwysbedeling in plek gekom het en rigting gee oor hoe ons in hierdie nuwe bedeling as gereformeerde ouers trou kan bly aan ons doopbelofte.
Die vasstelling van 'n nuwe onderwysbedeling
Die belangrikste komponente van hierdie onderwysbedeling is die volgende :
a) Handves oor Waardes, Onderwys en Demokrasie
b) Nasionale Kurrikulumverklaring
c) Die wysiging van die onderwyswet
d) Die Godsdiensbeleid vir skole
Die vier komponente vorm ook deel van 'n paradigma verandering in die onderwys. Van 'n bedeling waar die klem meer op die oordrag van kennis geval het, verander die klem nou na die oordra van waardes. Die Handves gee 'n uiteensetting van die waardes wat deur die onderwysstelsel oorgedra behoort te word. Daarin word dit soos volg gestel : "…,the Manifesto offers ways to promote the values of the Constitution through the educational system." Die Nasionale Kurrikulumverklaring is die spesifikasie waaraan kurrikulums moet voldoen om daardeur te verseker dat hierdie waardes deur kurrikulums oorgedra word. Die wetswysigings gee die minister die mag om 'n nasionale kurrikulum af te dwing op skole en die Godsdiensbeleid maak alle godsdiensbeoefening in stryd met hierdie waardes onwettig.
In hierdie proses is die minister bygestaan deur 15 raadgewers wat hy self aangestel het. Die name van hierdie raadgewers word egter geheim gehou. Name van twee van die raadgewers het egter uitgelek met verloop van tyd, naamlik die van prof. Gerrie Lubbe en prof. Kobus Kruger. Beide hierdie raadgewers is belangrike figure in die Intergeloofbeweging in Suid-Afrika en lektore in Godsdienswetenskap aan UNISA2.
Die Handves oor Waardes, Onderwys en Demokrasie
Die hele proses wat gelei het tot die nuwe onderwysbedeling het begin toe min. Kader Asmal vir Prof. Wilmot James gevra het om 'n groep diverse denkers te versamel en 'n dokument op te stel waarin die waardes vir onderwys uiteengesit word.
Die name en posisies van hierdie groep denkers word hieronder gegee:
Prof. Wilmot James : Hoof van "Social Cohesion and Integration Research Programme" by die RGN3. Skrywer van "The Architect and the Scaffold : Evolution and Education in South Africa"4
Frans Auerbach – Voorsitter van "National Religious Forum" in 1998.5
Zubeida Desai – Lektor in Linguistiek aan die Universiteit van Wes Kaapland6
Hermann Giliomee - Tans afgetree, was professor in Geskiedenis aan Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad.7 Stigter van "Die Suid- Afrikaan" en skrywer vir "Cape Times" en "Rand Daily Mail".8
Pallo Jordan – Lid van die ANC en minister in die ANC regering tot 1999.9
Antjie Krog – Afrikaanse skrywer wat ook 'n boek geskryf het oor die Waarheids en Versoenings Kommissie.10
Tembile Kulati – Navorser by die Universiteit van Wes Kaapland11 en later raadgewer aan die Minister van Onderwys12
Khetsi Lehoko – Direkteur Generaal van dept. van Onderwys.13
Brenda Leibowitz - Navorser by die Universiteit van Wes Kaapland14
Pansy Tlakula – Hoofverkiesingsbeampte van die IEC.15
Hierdie groep het in die middel van 2000 'n dokument uitgebring met die titel : "Values, Education & Democracy". Hierdie dokument is publiek gemaak en op 'n konferensie bespreek. Hierna is 'n tweede uitgawe van die dokument uitgegee op 23 Augustus 2001.
Hierdie dokument argumenteer vanuit die aanname dat die grondwet 'n uitdrukking is van Suid-Afrikaners se gemeenskaplike aspirasies en waardes. Die dokument stel dit soos volg : "The approach of the Manifesto is founded on the idea that the Constitution expresses South African=s shared aspirations, and the moral and ethical direction that they have set for the future."
Indien hierdie aanname waar is, behoort dit moontlik te wees om deur middel van 'n rasioneel en objektief verifieerbare proses die waardes van die grondwet uit die grondwet af te lei. Die dokument beskryf egter glad nie so 'n proses nie. Sonder enige logika word daar van die aanname gespring na die waardes. "What, then, are the values, entrenched in our Constitution, the values that compel transformation=? We have identified ten: …"
Uit hierdie gegewens kan die volgende afgelei word:
a) Aangesien daar nie 'n rasioneel objektief verifieerbare proses gevolg is om die waardes van die grondwet uit die grondwet af te lei nie, is daar min rede om te aanvaar dat die waardes werklik die waardes van die grondwet weerspieel.
b) As gereformeerde Afrikaners moet aanneem dat hulle waardes verteenwoordig word deur persone soos Hermann Giliomee en Antjie Krog, dan is dit daar min rede om te aanvaar dat die waardes wat hierdie persone uit die grondwet aflei gereformeerd of verteenwoordigend van Afrikaners gaan wees.
Gevolgtrekking : Die waardes wat geïdentifiseer word deur die Handves, is waarskynlik nie in ooreenkoms met die grondwet nie, nog in ooreenkoms met gereformeerde waardes. Dit word ook bevestig daardeur as die Handves die volgende sê oor die godsdienstige waardes wat oorgedra moet word :
"There is no place in the classroom, then, for an education that promotes any one creed or belief over any other. Yet, there is every reason for schools to expose learners to the diversity of religions that impel and inspire society, and the morality and values that underpin them."
Nasionale Kurrikulumverklaring
Die Nasionale Kurrikulumverklaring beweer dat dit gebasseer op die Handves, alhoewel die finale weergawe van die Handves eers na die Konsep Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) vrygestel is. Dit word egter so gestel in die beleidsdokument in die NKV (bl. 7). "Die Handves oor Waardes, Onderwys en Demokrasie (Departement van Onderwys , 2001) identifiseer tien fundamentele waardes van die Grondwet: … Die Handves identifiseer voorts sestien strategieë om jong Suid-Afrikaners vertroud met die waardes van die Grondwet te maak. Hierdie strategieë word in die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring verwoord en sluit die volgende in : …". Hierdie tydberekeninge dui daarop dat die waardes dat die waardes waarop die NKV gebasseer is, lank voor die tyd reeds vasgestel is, en dat die proses wat gebruik is om die handves op te stel net 'n oëverblindery is.
Heelwat partye het besware teen hierdie Kurrikulumverklaring.
Die belangrikste punte van kritiek teen die nasionale kurrikulum is die volgende:
a) Dit poog om die waardes van die Intergeloof godsdiens aan leerlinge oor te dra. Vir diegene wat meer wil weet van hierdie aspek word die video "Die Intergeloofs – en New Age infiltrasie in die onderwys" deur Sarel van der Merwe ten sterkste aanbeveel.
In Gr. 1 word die volgende verwag : "Matches symbols associated with a range of religions in South Africa"16
Van Gr.4 leerlinge word die volgende verwag: "demonstrate planning and skillful use of design elements in creating masks based on various nature gods of diffirent cultures;"17
Van Gr. 6 word die volgende verwag : "Finds out about, tries out and explains a song-dance ritual (e.g. snake dance, rain dance, wedding dance circle dance, reed dance, stick dance), referring to its purpose and structure - patterns, repetition and sequence."18
b) Seksonderrig vanuit 'n sekulêre perspektief vorm 'n integrale deel van die NKV.
In Gr. 1 word die volgende verwag : "Recognises situations that may be, or may lead to, sexual abuse,…"19
In Gr. 6 word die volgende verwag : "Explains causes of communicable diseases (including HIV/AIDS) and available cures, and evaluates prevention strategies, in relation to community norms and personal values."
c) Dit poog om kulturele diversiteit af te breek en die kultuur van die deur die owerheid gefabriseerde
reënboognasie oor te dra.
In die leerarea van Sosiale wetenskappe word die Franse Hugenote, die Britse setlaars en die Groot Trek nie behandel nie. Die westerse geskiedenis word oorwegend negatief beoordeel. In plek van sy eie geskiedenis, word bv. die Afrikaanse kind onderrig in Afrika beskawings, Suid-Afrika voor 1600, ongelykheid in die samelewing, slawehandel ens. In Gr. 7 word bv. van leerlinge verwag : "Composes music, songs or jingles about human rights issues or to accompany a performance or presentation about human rights."20 Die Oorsig van die NKV stel dit soos volg : "Die bevordering van waardes is nie slegs belangrik vir persoonlike ontwikkeling nie, maar ook om te verseker dat 'n nasionale Suid-Afrikaanse identiteit gebou word op waardes wat verskillend is van die wat apartheidsonderwys onderlê het."
Vir ons as ouers om leerlinge te laat onderrig in simbole, danse en rituele van afgodsdienste, sal neerkom op afgodery. Die Heidelbergse kategismus (V&A 94) praat oor afgodery soos volg : "Ek moet ter wille van my sieleheil, alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels vermy en daarvan wegvlug."
Seksonderrig vanuit 'n sekulêre perspektief kom neer op hoerery.
Die Heidelbergse kategismus (V&A 109) beskryf die gebod teen hoerery soos volg : "Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagte, luste en alles wat 'n mens daartoe kan verlei."
Wanneer ons toelaat dat ons kinders onderrig word in afgodery en hoerery, dan is die woorde van Christus aan die gemeente van Pergamus op ons van toepassing in Op. 2 : 14 : "Maar ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bileam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en en te hoereer."
Die Konsep NKV is vrygestel op 30 Julie 2001 vir publieke kommentaar, en die sluitingsdatum vir die kommentaar is op 12 Oktober. Die volgende feite dui daarop dat dit die doelwit van die departement van Onderwys was om hierdie dokument goedgekeur te kry sonder dat ouers, onderwysers en skoolbesture werklik kennis neem van hierdie dokument en tyd kry om sinvol te reageer:
a) Die dokument beslaan 1400 bladsye, is slegs in Engels beskikbaar, en maak algemeen gebruik van terme waarmee gewone ouers nie vertroud is nie. Lees bv. die sin :
"An outcomes-based framework uses assessment methods that are able to accomodate divergent contextual factors." Daar kan met reg gevra word of dit billik is om van gewone ouers te verwag om sinvol te kan reageer op so 'n dokument in 'n bestek van twee en 'n halwe maand, terwyl hulle tegelykertyd hulle gewone dagtaak ook moet vervul.
b) Terwyl daar 29 000 skole in Suid-Afrika is, wat universiteitsdepartemente en onderwyskolleges uitsluit, is daar slegs 11 000 kopieë van die NKV gedruk. Aangesien dit moeilik is om te glo dat die ondwerwysdepartement nie weet hoeveel skole daar in die land is nie, dui dit daarop dat dit die intensie was van die onderwysdepartement om die dokument nie aan alle skole te versprei nie, laat alleen alle onderwysers en ouers.
c) Sommige streekskantore het skole eers op 4 Oktober in kennis gestel dat hulle kan gaan kyk na die NKV by die kantore van gespesifiseerde amptenare. Gegee dat dit 'n byna onmoontlike taak is om 'n dokument van 1400 bladsye deeglik te bestudeer en te evalueer in iemand anders se kantoor in 'n bestek van 8 dae, dui dit daarop dat dit nie die intensie van die onderwysdepartement was om onderwysers tyd te gee om die dokument te bestudeer en sinvol daarop te reageer nie.
d) Die onderwysdepartement het oor die algemeen swak gereageer op versoeke van die publiek om die NKV te pos.
e) Op die webbladsy van die Nasionale Onderwysdepartment was daar 'n koppel na die NKV op die hoofbladsy. Twee weke voor die sluitingsdatum vir kommentaar is die koppel verwyder.
f) Die onderwysdepartment het nie moeite gedoen om skole bewus te maak van die vrystelling van die NKV nie. In 'n steekproef van 100 skole in Gauteng in die laaste week van September, was 3 skole bewus van die NKV en 2 het al kopië daarvan gesien.
Ondanks bg. optrede, was daar oorweldigende reaksie van die publiek teen die NKV. Die reaksie het bestaan uit tienduisende briewe aan die pers, briewe aan die onderwysdepartement en oproepe aan parlementslede. Al die groot kerkverbande in Suid-Afrika het hulle krities uitgespreek teenoor hierdie kurrikulum.
Na die sluitingsdatum, op 13 November 2001, is openbare verhore gehou, waartydens organisasies mondeling insette kon lewer oor die NKV. Alhoewel almal kon aanbied om voorleggings te maak, kon die minister kies wie hy wou toelaat om voorleggings te doen. Alhoewel die minister nog die vorige dag op die radio gesê het dat almal aangehoor sal word, het die minister slegs 19 organisasies gevra. Die groot Afrikaanse kerke sowel as Christelike privaatskole is onder die wat nie die geleentheid gegee is om 'n voorlegging te doen nie. Tydens die openbare verhore was demonstrasies teen die NKV in Kaapstad en Pretoria.
Ondanks die publieke reaksie is die finale NKV op 31 Mei 2002 gepromulgeer, met geen noemenswaardige veranderinge nie. Van die mees afstotelike gedeeltes is uit die leerarea Lewensvaardighede gehaal en weer weggesteek in die leerarea Kuns en Kultuur. Diegene wat nie die hele kurrikulum deeglik deurgegaan het nie, sal nie hierdie subtiele skuif raaksien nie.
Die wysiging van die onderwyswet
Op 6 Augustus 2002 is die finale Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette gepubliseer. Die essensie van hierdie wetswysigings kom op die volgende neer:
1) Om 'n nasionale kurrikulum voor te skryf vir publieke en onafhanklike skole. Die wet stel : "The Minister may make regulations - … c) to prescribe a national curriculum applicable to public and independent schools;"
2) Om 'n nasionale asseseringsinstrument voor te skryf vir publieke en onafhanklike skole.
Die wet stel :
"The Minister may make regulations - … d) to prescribe a national process for the assesment of learner achievement in public and independent schools;"
Gegee dat die hoofbesware teen die nasionale kurrikulum die oordrag van Intergeloofwaardes en 'n reënboognasiekultuur is, is die implikasie van hierdie wetswysiging is dus dat dit onwettig sal wees om onderwys aan skole te gee wat Christelike waardes of Afrikaanse kultuur aan leerlinge oordra. Dan sal dan bv. onwettig wees vir CVO skole om onderwys aan leerlinge te gee wat Christelik of Volkseie is.
Indien skole sou besluit om nie die nasionale kurrikulum te gebruik nie, sou dit weinig waarde hê, aangesien die minister ook 'n nasionale asseseringsinstrument kan voorskryf, wat seker maak dat leerlinge die nasionale kurrikulum hulle eie gemaak het. Indien skole sy leerlinge wil voorberei om die nasionale eksamen te slaag, sal hulle geen ander keuse hê as om hulle kinders te onderrig in die nasionale kurrikulum nie.
Indien die skole sou besluit om 'n ander kurrikulum en asseseringsinstrument te gebruik, dan sou dit ook van weinig nut wees, aangesien die minister ook beplan om die nasionale sertifikaat (wat uitgereik word indien die toetse van die nasionale asseseringsinstrument geslaag word) as toelatingsvereiste te stel vir tersiêre inrigtings.
Hieruit behoort dit duidelik te wees dat die departement van onderwys besig is om 'n steierwerk van wetgewing daar te stel, wat dit onmoontlik gaan maak vir skole om Christelike waardes of 'n Afrikaanse kultuur aan leerlinge oor te dra.
Die verloop van gebeurtenisse rondom hierdie wetswysigings is soos volg:
a) Die konsepwetsontwerp word op 11 April gepubliseer. Die publiek het tot 15 Mei om hierop te reageer.
b) Op 21 Julie word die publiek uitgenooi om skriftelike voorleggings oor die hersiene wetsontwerp voor 30 Julie.
Mense wat skriftelike voorleggings doen moet ook gereed wees om op 13 Augustus voor 'n kommissie te verskyn. Die hersiene wetsontwerp is egter nog nie vrygestel nie. In die tydperk wat die publiek gevra is om kommentaar, was daar dus niks vrygestel om oor kommentaar te lewer nie.
c) Op 6 Augustus word die hersiene wetsontwerp vrygestel. 7 dae na die sperdatum vir skriftelike voorleggings en 7 dae voor die mondelinge voorleggings aan die komitee.
Soos met die NKV, is daar sterk aanduidings dat min. Asmal poog om hierdie wetgewing goedgekeur te kry sonder dat betrokkenes soos ouers en onderwysers tyd kry om sinvolle insette te lewer. Ondanks vele versoeke dat die datum vir mondelinge voorleggings uitgestel word en kritiese berigte in die pers, het die verhore deur die komitee voortgegaan op 13 Augustus. Byna al die organisasies wat voorleggings gedoen het, het hulle kommer uitgespreek teen die beoogde wetswysigings. Die enigste organisasie wat ten gunste was van die wetswysigings was SADTU. Dit was opmerklik dat al organisasies 20 minute gekry vir hulle aanbiedings, terwyl SADTU dubbel soveel tyd gekry het.21
Die komitee het enkele onbelangrike veranderings aan die wet aangebring, om die skyn te wek dat daar geluister is na die publieke voorleggings.22 Alhoewel die komitee beplan het om op 24 September te vergader om die finale wet voor te berei wat by die parlement sou dien, is hierdie vergadering na 17 September vervroeg, sodat dit op 19 September voor die parlement. Hierdie stap is nog meer opmerklik, gegee dat daar 'n reël is dat daar ten minste 3 dae moet verloop van dat 'n komitee 'n wet goedkeur todat dit voor die parlement dien.23 Toe die wet voor die parlement gedien het, het al die partye daarteen gestem, behalwe die ANC, IVP (wat hulle daarteen uitgespreek het) en UDM (wat oor 'n kort tydjie hulle opinie verander het). Die feit dat die publiek verontwaardig gereageer het op die wetgewing is ook genoem tydens die bespreking en is toegeskryf aan misleiding van die publiek. Toe daar gestem is, was daar egter nie 'n kworum nie, en die wet kon nie goedgekeur word nie.24
Dit het egter slegs die goedkeuring vertraag, en op 26 September is die wet goedgekeur deur die parlement.25
Die Godsdiensbeleid
In Junie 2001 het min. Asmal reeds sy intensies bekend gemaak rondom 'n godsdiensbeleid vir skole. Hierop het heelwat negatiewe reaksies deur kerkleiers gevolg.26 Met die wete dat kerkleiers teen hierdie beleid gekant was, het die onderwysdepartement op 19 Maart 2003 'n konsepbeleid vir Godsdiensonderrig op skole vrygestel vir publieke kommentaar. Dis een dag voordat die skole in Gauteng sluit. Die publiek het kans om te reageer daarop voor 7 April. Dis op die dag dat die skole heropen.27 Gegee dat die onderwysdepartement die skooljaar vasstel, dui dit weer eens daarop dat die onderwysdepartement probeer om die beleid goedgekeur te kry sonder dat ouers en onderwysers daarvan bewus is.
Die Godsdiensbeleid kom kortliks op die volgende neer:
a) Onderrig oor verskillende godsdienste, vanuit 'n Intergeloofperspektief moet as 'n vak aangebied word as 'n vak in Suid-Afrikaanse skole. Die konsepbeleid stel: "As an educational programme for teaching and learning about religion and religious diversity, Religion Edication shall be adopted by South African schools."
b) Godsdiensbeoefening en Godsdiensonderrig vanuit 'n bepaalde perspektief mag nie aangebied word op staatskole nie. Die konsepbeleid stel : "Religious education with specific religious aims, is the responsibility of the home, family and religious community." en verder "If School Governing Bodies allocate time for assembly, it shall not be an occasion for religious instruction, … When assemblies are organised by the school they should be of an ecumenical nature."
Dit is nie verbasend dat daar vanuit die onderwyswêreld heftige reaksie was teen hierdie beleid nie. Daar was heelwat kritiese berigte in die pers. In Stellenbosch het 400 leerlinge 'n petisie onderteken.28 Kerke het sterk standpunt ingeneem teen die godsdiensbeleid.29 In Pretoria is daar 'n massavergadering gehou by die Hoërskool Hendrik Verwoerd, waartydens die skoolhoof van daardie skool, die moderator van die Noord-Transvaalse Sinode van die NG-Kerk en Gustaf Claassen van die algemene sinode van die NG Kerk, wat gereformeerde kerke verteenwoordig in die ministeriële adviesraad, publiek hulle teen hierdie beleid uitgespreek het.
Na al die reaksie is 'n hersiene godsdiensbeleid vrygestel. Toe die hersiene weergawe van die Godsdiensbeleid vrygestel is, is dit geheim gehou van die publiek en slegs versprei aan presidensiële raadgewers. Die hersienings is van so 'n aard dat die mees aanstootlike gedeeltes steeds behou word, maar weggesteek word, sodat die publiek nie maklik sal optel nie.
Die gevolgtrekking wat Leendert van Oostrum maak uit 'n regsmening oor die hersiene weergawe is soos volg : "Die jongste weergawe van die onderwysminister se beoogde godsdiensbeleid word geheim gehou, en net versprei aan lede van die presidensiële adviesraad van godsdiensleiers. Volgens aanvanklike mediaberigte is hierdie geheime weergawe 'n groot verbetering op die vorige een. Hieronder volg egter 'n regsmening oor die dokument deur Prof Rassie Malherbe van die Regsfakulteit van RAU. Daaruit blyk dit dat ook hierdie geheime weergawe eintlik geen verbetering is op die vorige bepalings nie, maar dat dit net probeer om godsdiensleiers heuning om die mond te smeer."30
Verdere stappe
Vanaf die begin van die proses, was sekere uitgewers betrokke gewees by die ontwerp van die nuwe onderwysbedeling, aangesien hulle alreeds voor die finalisering van die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) reeds boeke uitgegee het wat in lyn was met die NKV. Teen die tyd dat die nuwe onderwysbedeling ten volle ontplooi is, behoort uitgewers boeke beskikbaar te hê vir alle leerareas en alle grade.
Eers dan sal ons ten volle besef watter waardes die staat wil oordra aan die volgende geslag. In die NKV daar bv. van leerlinge verwag om die volgende te leer : "Evaluates media and other influences on personal lifestyle choices and proposes appropiate responses."31 Eers wanneer die handboeke beskikbaar is, gaan ons verstaan dat met persoonlike lewenstylkeuses bedoel word keuses tussen homoseksualiteit en heteroseksualiteit, en nie keuses tussen spaghetti en macaroni nie.
Die prosesse is ook reeds in aksie om die onderwysers op te lei volgens die vereistes van die nuwe onderwysbedeling. Die leerplanne vir opleiding van onderwysers word herskryf en heroriënteringskursusse vir bestaande onderwysers word aangebied.32
Om die volle implikasies van die nuwe onderwysbedeling te verstaan, is dit dus nodig om ook insae te hê in die nuwe handboeke vir die skole, sowel as die materiaal wat vir die opleiding van onderwysers gebruik word.
Gevolgtrekkings
Die hele proses waarvolgens die nuwe onderwysbedeling in plek gesit is word grafies opgesom in die skets hieronder.
Hierdie proses het die volgende kenmerke:
a) Die faktor wat die hele proses dryf is min. Asmal se visie om 'n stelsel van waardes oor te dra aan die nuwe geslag Suid-Afrikaners, soos hy dit self stel : "We're trying to create a South African school system with values that are truly South African." Omdat die proses primêr bepaal is deur min. Asmal se visie, en nie 'n objektief verifieerbare proses nie, is die uitsette van die proses nie in lyn met die grondwet nie, alhoewel dit voorgee om die waardes van die grondwet oor te dra.
b) Min. Asmal het hierdie bedeling met buitengewone spoed, sonder inagneming van die opinies van die meerderheid ouers, onderwysers en kerkleiers deurgedruk. Die paar toegewings wat die minister gemaak het aan bv. kerkleiers kan geensins oorwinnings gesien word nie. Wanneer die minister 'n strategie volg van twee stappies vorentoe en een terug, dan is die eindresultaat dat die minister een stappie vorentoe beweeg het, en is die oorwinning dus syne. Inteendeel, deurdat die minister bereid is om aan die kerkleiers toe te gee, wen hy die lojaliteit van hierdie leiers, en sal hulle hom help met die implementering daarvan.
c) Handboeke in lyn met die nuwe onderwysbedeling het alreeds uitgekom voor die bedeling nog gefinaliseer is. Dit dui daarop dat die uitgewers van handboeke van die begin af deel was van die proses om die nuwe bedeling in te voer. In die Oorsig van die NKV word daar ook gestel : "Die hersieningsproses is in Januarie 2001 met ongeveer 150 kurrikulum-ontwikkelaars uit die hele onderwysgemeenskap begin.", wat hierdie vermoede bevestig.
d) Die nuwe onderwysbedeling gaan deur middel van die mag van die staat afgedwing word.
Hierdie proses het die volgende implikasies:
a) Aangesien dit baie tyd en moeite gekos het om hierdie nuwe onderwysbedeling in plek te kry, en die oorgang na die nuwe bedeling baie chaos en ongelukkigheid veroorsaak het, sal toekomstige onderwysministers vir die volgende dekades nie anders kan as om binne die raamwerk van hierdie bedeling te werk nie.
b) Daar sal druk van uitgewers op die staat wees om die nuwe onderwysbedeling te implementeer, aangesien hulle groot finansiële beleggings gemaak het in hierdie bedeling, en graag 'n opbrings op hierdie belegging wil hê.
Dis in hierdie onderwysbedeling dat gereformeerde ouers gehoorsaam moet wees aan hulle doopbelofte waarvolgens hulle hul kinders in die leer van die Ou en Nuwe Testament moet onderrig en laat onderrig en tegelyk gehoorsaam te wees aan die owerheid.
Om dit te kan doen, moet ons verstaan waar daar ruimte vir gereformeerdes is om dit te doen. Die volgende faktore bepaal waar daar vir ons ruimte is:
a) As gereformeerdes belei ons dat ons gehoorsaam moet wees aan die owerheid volgens Rom. 13 ("Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, …"), NGB Art. 36 (AVerder is elkeen verplig, …, om hom aan die owerhede te onderwerp, …") en HK Son. 39 ("Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp."). Gehoorsaamheid aan die owerheid beteken egter in die eerste plek dat ons gehoorsaam is aan die hoogste gesag van die owerheid, naamlik die grondwet. Indien 'n departement of 'n amptenaar iets versoek wat in stryd is met die grondwet, dan is daardie versoek ongeldig, en dan kom ongehoorsaamheid aan daardie versoek nie neer op ongehoorsaamheid aan die owerheid nie. Die grondwet stel dit soos volg : "This Constitution is the supreme law of the Republic; law or conduct inconsistent with it is invalid, and the obligations imposed by it must be fulfilled."
Gereformeerdes is dikwels geneig om sonder versuim te voldoen aan elke wet, beleid of versoek wat van 'n departement afkom, en hierdie optrede te beskou as gehoorsaamheid aan die owerheid. Indien gehoorsaamheid aan die owerheid in die eerste plek beteken dat ons gehoorsaam is aan die hoogste gesag van die owerheid, naamlik die grondwet, dan kan blindelingse gehoorsaamheid aan dit wat van 'n departement se kant af kom nie noodwendig beskou word as gehoorsaamheid aan die owerheid nie. Ongehoorsaamheid aan 'n amptenaar of 'n departement beteken dus nie noodwendig ongehoorsaamheid aan die owerheid nie. Gehoorsaamheid aan die owerheid beteken daarom om gehoorsaam te wees aan wette of versoeke van 'n departement of 'n amptenaar, insoverre dit in ooreenstemming met die grondwet is. Aangesien die nuwe onderwysbedeling tot 'n groot mate in stryd is met die grondwet, is hier heelwat ruimte om nie in te val by die nuwe onderwysbedeling nie, maar tegerlykertyd gehoorsaam te wees aan die owerheid.
b) Die onderwysdepartement is 'n groot en lomp burokrasie en is oor die algemeen in 'n toestand van chaos. Soms word onderwysers se salarisse te laat of glad nie betaal nie.33 Sommige onderwysers wat lank reeds bedank het kry nog steeds salaris.34 Byna elke keer as mens met 'n amptenaar wil praat oor 'n spesifieke saak, is daar 'n ander persoon wat die saak hanteer.35 Eksamen vraestelle lek gereeld uit. Leerlinge wat goed gevaar het in eksamens verneem dat hulle gedruip het, weens administratiewe foute. Na jare het die departement dit nog nie reggekry om 'n deursigtige en wettige prosedure in plek te stel vir die registrasie van tuiskolers nie.36 'n Departement wat groot en lomp en in 'n toestand van chaos verkeer, neem baie lank om te reageer op iets. Indien gereformeerdes stilweg binne die ruimte wat die grondwet ons gee, 'n ander onderwysbedeling in plek stel, sal dit die onderwysdepartement dus 'n lang tyd neem om dit agter te kom en dit dan te begin vervolg.
As al die dinge in ag geneem word, kan die volgende gevolgtrekking gemaak word. Daar weinig rede om te glo dat die nuwe onderwysbedeling hervorm kan word tot so 'n mate dat ons gereformeerde onderwys aan ons kinders kan gee, en tegerlykertyd voldoen aan die vereistes van die onderwysbedeling. Die politieke bedeling waarin ons leef, in kombinasie met die lompheid van die onderwysdepartement, gee vir ons ruimte waarbinne ons 'n gereformeerde onderwysbedeling kan
uitbou in hierdie land, wat heeltemal apart is van die onderwysbedeling van die staat, en waarin ons tegerlykertyd gehoorsaam kan wees aan die owerheid en aan die Skrif.
*************************************
1 http://www.angelfire.com/mn/rongstadliberty/EducationQuotes.html
2 "Die Intergeloof en New Age infiltrasie in die onderwys – deel 1", Video deur Sarel van der Merwe, 2001
3 http://www.hsrc.ac.za/media/2003/4/20030411_1.html
4 http://www.hsrcpublishers.co.za/index.html?architect_scaffold.html~content
5 http://bahai-library.org/newspapers/PR100398.html
6 http://www.uwc.ac.za/education/staffag.htm
7 http://www.fak.org.za/HermanGiliomee.htm
8 http://www.upress.virginia.edu/books/giliomee.html
9 http://www.anc.org.za/people/jordan.html
10 http://southafrica.poetryinternational.org/cwolk/view/19298
11 http://www.suntimes.co.za/edu/highered/1998/high8.htm
12 http://www.srhe.ac.uk/southafrica/abstracts/SYMTembileKulati.htm
13 http://www.ccf.org.za/docs/supp1.htm
14 http://www.saalt.org.za/saalt/jour32-2.htm
15 http://www.elections.org.za/Management.asp
16 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Life Orientation", bl. 18
17 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Arts and Culture", bl. 46
18 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Arts and Culture", bl. 61
19 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Life Orientation", bl. 16
20 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Arts and Culture", bl. 74
21 Boodskap 3834 op Tuisonderwys poslys, Boodskap afkomstig van Africa Christian Union
22 Boodskap 3907 op Tuisonderwys poslys, afkomstig van Leendert van Oostrum
23 Boodskap 3913 op Tuisonderwys poslys, afkomstig van Leendert van Oostrum
24 Boodskap 3928 op Tuisonderwys poslys, afkomstig van Cassie Aucamp van die AEB
25 Boodskap 4011 op Tuisonderwys poslys, afkomstig van Leendert van Oostrum
26 "Die Intergeloof en New Age infiltrasie in die onderwys – deel 1", Video deur Sarel van der Merwe, 2001
27 http://pestalozzi.org/legislation/Religion%20index.htm
28 "Cape Times", 31 Maart 2003, bl. 3
29 http://www.news24.com/Beeld/0,4127,3_1342124,00.html
30 Boodskap 171 op Pestalozzi-Trust poslys
31 Nasionale Kurrikulum Verklaring, Leerarea "Life Orientation", bl. 44
32 "Multigodsdienstige Onderwys vir die Nuwe Wêreldorde", prof. JS Malan,
www.bibleguide.com/old/articles/afrikaans/multigodsdiens.htm
33 Brief aan Beeld, 20 Mei 2003, Maryna Saunders
34 Persoonlike gesprek met iemand wat onderwyser was in die Oos Kaap
35 Onderhoud op Radio Pretoria rondom registrasie van CVO skool in Magaliesburg wat teruggetrek is.
36 Die minister maak die volgende uitspraak : "On the matter of home schooling, reports from provinces indicated that there were few systems in place to manage the provision of home education." By http://education.pwv.gov.za/Media/statements%202003/feb2003/mefsi.htm